AKADEMIE
Ons is geweldig trots en dankbaar dat ons leerders uitmuntende prestasies op akademiese gebied lewer. Wat A-gemiddeldes betref, behaal ongeveer 12% graad 12 leerders dié besonderse prestasie elke jaar. Die afgelope vyf jaar lewer ons graad 12-leerders wat in verskeie vakke as van die top-drie kandidate aangewys word.
Die slaagsyfer in die grade 8 tot 11 is gemiddeld 98.5%.
Ons oud-leerders behaal gereeld uitmuntende prestasies en word gereeld bekroon met verskillende akademiese pryse wat ‘n bewys is van die fondament wat in die skool in elke vakgebied gelê word. Hierdie prestasies kan toegeskryf word aan gedissiplineerde leerders wat onder die toesig van ‘n gemotiveerde en toegewyde personeel werk.
Ouers van voornemende leerders is baie welkom om hulle kinders se vakkeuse met die hoof of onderwyser-voorligter te kom bespreek. Ons bied ‘n wye verskeidenheid van vakke aan.
Talle leerders doen ook op hul eie verskeie ander vakke, soos onder andere Kuns, Spraak en Drama, ens. Hierdie vakke word deur nabygeleë onderrigsentrums aangebied. Voorsiening word wel gemaak vir die aflê van eksamens en dié vakke word ook op die leerder se rapport aangetoon.
Gedurende die derde kwartaal voer die onderwyser-voorligter ‘n individuele onderhoud met elke graad 9-leerder in verband met sy vakkeuse vir graad 10. Ons aanbeveling word skriftelik aan u voorgelê en u is dan welkom om dit weer eens met die voorligter te kom bespreek.
Daar word ook in die derde kwartaal ‘n spesiale graad 9 ouervergadering belê waartydens verskeie aspekte rondom die graad 10 kursus en verdere opleiding met die ouers en leerders bespreek word.
KO-KURRIKULÊRE AKTIWITEITE
Die primêre doel van opvoeding is die ontwikkeling van die totale leerder tot ‘n volwasse mens.
Ons is ingestel om die kind holisties te benader en aan elkeen soveel as moontlik geleenthede te bied om as jongmens aan ‘n gebalanseerde ko-kurrikulêre program deel te neem. Ons verwag van leerders om hierdie geleenthede ten volle aan te gryp.
REDENAARSKOMPETISIES
Ons redenaars en debatteerders neem, buiten interne geleenthede, aan verskeie kompetisies deel en lewer gereeld top-presteerders op dié gebied.
LEIERSKAPONTWIKKELING
Omdat ons skool die ontwikkeling van ons leerders se leierskappotensiaal hoog aanslaan, word daar op hierdie terrein ook opleiding verskaf.
Die VRL gaan reeds aan die einde van ‘n betrokke jaar op ‘n intensiewe Naweekseminaar. Verder word daar by verskeie ander geleenthede vir die hele VRL, asook die klaskapteine kursusse gereël.
REKENAARTEGNOLOGIE
Die skool beskik oor ‘n moderne rekenaarsentrum waar rekenaars op ‘n netwerk gekoppel is. Ons is ook op die Internet ingeskakel met e-pos fasiliteite.
Alle leerders word onderrig om rekenaars met vertroue te gebruik. Die Microsoft Office-pakket, wat tans die gewildste in die arbeidsmark is, word met leerders behandel.
Die skool bied in graad 8 en 9 Rekenaargeletterdheid aan en in Graad 10 tot 12 Rekenaartoepassingstegnologie .
Ons beskik oor ‘n Khanya rekenaarlokaal vir vaslegging en klaskamers wat ten volle toegerus is met rekenaartegnologie.
OLIMPIADES EN VAKKOMPETISIES
Ons leerders neem gereeld aan die volgende olimpiades deel: Engels, Wiskunde, Wetenskappe en Algemene Kennis. Verder word leerder verryk deur deel te neem aan die Taalbondeksamen, Brugboukompetisies, Aquatics, Landbou Kuddekompetisies, WOW-spelkompetisies, Dramafeeste en Tienertoneelspelkompetisies, Kookkunskompetisies om net ‘n paar te noem.
SKOOLBIBLIOTEEK
Leerders kan die goed toegeruste mediasentrum soggens, sowel as middae benut. Die Mediasentrum het ook toegang tot die Internet, wat vir leerders beskikbaar is.
TYE: Dinsdae tot Donderdae 15:00 – 17:00.
Vanaf graad 9 kan leerders ook op die Mediakomitee dien.
VOORLIGTINGSDIENS
Ons skool beskik oor ‘n ten volle opgeleide onderwyser-voorligter wat die leerders op verskeie terreine kan bystaan. Skolastiese-, studie- en ander akademiese probleme word aangespreek. Leerders met ernstige en spesifieke leer- en ontwikkelingsprobleme word na die Skoolkliniek, wat op die dorp geleë is, verwys.
Die leerders word gereeld toegespreek oor verskeie onderwerpe. Hulle kry intensiewe loopbaanvoorligting en alle toetse word vir hulle gereël. Hulle word ook in kontak gebring met die verskeidenheid van loopbane waaruit hulle ‘n beroepskeuse kan maak.
Die voorligter, saam met die ondersteuningspan, sien om na die leerders met gediagnoseerde leerprobleme. Die skool het toegang tot ACADEMIX, ‘n gerekenariseerde taalvaardigheidontwikkelingsprogram waar leerders met taalvaardigheidsprobleme remediëring kan ontvang.
Oueraande
Oueraande is geleenthede waar ouers en personeel die kans kry om mekaar te ontmoet en as ‘n span te besin oor die vordering van leerders. Ons wil ouers dus aanmoedig om werklik gebruik te maak van die byeenkomste. Dikwels word daar belangrike sake bespreek en verduidelik. Dit is die ideale geleentheid om kontak te maak met mekaar. Oueraande is is baie belangrik en nuttig. So byvoorbeeld, ontvang die graad 9-ouers (volgende jaar se graad tiens) nuttige inligting oor nuwe leerareas en vakkeuses. Bywoning word werklik aangemoedig en hoog op prys gestel.
Datums
Hou die kwartaalprogramme vir spesifieke datums dop. Oueraande vind gewoonlik plaas op die eerste dag van elke nuwe kwartaal om 17:30 in die skoolsaal. Afsprake kan altyd tussenin gemaak word om onderwysers te kontak.



