Hokkie

Hoërskool Swartland het die afgelope paar jaar spesiale aandag aan ons hokkie geskenk en ons is tans besig om die vrugte van ons arbeid te pluk. Ons ding mee met van die top hokkieskole in die Boland. Die skool lewer jaarliks Bolandspelers op en daar is ’n merkbare positiewe groei in die aantal hokkiespelers.

Die o. 19A-seunshokkiespan neem jaarliks aan die Fairmonttoernooi deel, waar hulle teen die topskole in die Wes-Kaap kompeteer. Die o. 19A-dogtershokkiespan neem vanjaar deel aan die AJ Sportweek te Hoërskool Punt in Mosselbaai; hier kry hulle die geleentheid om kragte te meet teen topskole regoor die land. Ons o. 16A-seunshokkiespan neem ook elke jaar deel aan ’n toernooi te Hoërskool Paarl Gimnasium en die 0.16 A-dogtershokkiespan speel in die Spar Challenge.

Aan die einde van 2019, het die Rockies saans, onder ons moderne spreiligte, die eerste “six-a-side”-toernooi aangebied. Sedertdien is dit ’n jaarlikse instelling en ons leerders sien met afwagting daarna uit om teen mekaar te kompeteer en sodoende ervaring op te doen.

Alle spanne word die geleentheid gegun om op die astrobaan te oefen en alle A-spanne speel al hul tuiswedstryde daarop. Die baan word ook tydens die week gebruik vir ekstra klinieke en twee van die dorp se laerskole word op geskeduleerde tye uitgenooi om daar te oefen.

Om ons leerders se horisonne te verbreed, speel ons ook, wanneer moontlik, wedstryde teen toerspanne vanuit die buiteland. Hierdie jaar kry ons o. 19-hokkiedogters die geleentheid om skouers te skuur teen ’n toerspan van Engeland.

Addisionele inligting:

Hoof van Hokkie: Me Anandi Van der Merwe
E-pos: swartlandhockey@gmail.com