Rugby

Hoërskool Swartland het ‘n roemryke rugbygeskiedenis.  Ons skool spog met 6 Springbokspelers wat ons in die top 20-skole plaas wat die meeste Springbokke opgelewer het tot op hede.  Ons mees onlangse Springbok is Pieter-Steph du Toit.  Wêreldbekerwenner, IRB-Speler van die Jaar en Springbokkaptein is van sy topprestasies!

Ons lewer jaarliks spelers wat Boland se Cravenweek-, Akademie-, Grant Khomo- en Boland 7’s-spanne verteenwoordig.  Ons het ook tans spelers wat hul talente in die Varsitybeker, Curriebeker en Super Rugby kompetisies ten toon stel.

Ons bied jaarliks die HS Swartland Wintertoernooi aan gedurende die laaste naweek van die Junie/Julie vakansie.  In 2021 bied ons hierdie geleentheid vir die 10de keer aan.  Skole van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en so ver as Engeland, Wallis en Ierland neem jaarliks deel.

Ons eerstespanseuns neem gedurende die Maart/April vakansie aan die Oakdale Rugbyweek deel as aanvulling van hul voorseisoen program.  Ons junior spanne neem deel aan voorseisoen sportdae om maksimale blootstelling te verseker en ons skool se senior seuns neem aan verskeie 7’s-kompetisies deel wat die jaarlikse Boland 7’s-kompetisie insluit. 

Ons het ‘n ervare afrigtingskorps wat op hoogte bly met die nuutste neigings van die spel, gekoppel met ouskoolwaardes om ons seuns tot hul volle potensiaal te ontwikkel.  Ons speel weekliks in ‘n hoogs kompeterende omgewing en gee ons seuns al die blootstelling tot ons beskikking.

Ons seisoen sluit jaarliks af met Interskole teen Hugenote Hoërskool van Wellington.  Hierdie is ‘n tradisie wat begin het in 1975 en is ‘n hoogtepunt op ons sportkalender.

Addisionele informasie:

Rugbykoödineerder: Mnr. Schreuder Brand

E-pos: sbrand@swartlandhs.co.za